Uit my Kuierkombuis

‘n Tyd gelede merk ek die redelik groot enkel lamsskenkel by ons plaaslike kruidenierswinkel op.  Nie eintlik ‘n snit wat ons alledaags sien, nie, want gewoonlik is die lamsskenkel opgesny in kleiner porsies. Siende dat ek net vir twee sou kosmaak, besluit ek om twee van die heel lamskenkels aan te koop.  Sondagoggend vroeg haal ek my ovaal gietyster oondkastrol uit.

Ek skil ‘n heel ui,  druk ‘n paar heel kruienaeltjies in die snykante en plaas dit onderin die kastrol. Vier aartappels word geskil en gehalveer asook ‘n klein botterskorsie.  Laasgenoemde ook geskil en die nekgedeelte word heel in die pot geplaas.

Daarna volg die  twee lamskenkels.  Die nodige sout en peper word oorgestrooi  asook 2 koppies water waarby ‘n ¼ kop perskeblatjang en ‘n eetlepel Worcestershire sous gemeng is.

Die oond word verhit tot 200 ºC en die gereg word geurig warm vir die volgende uur.  Terwyl ons kerk toe was,  het ek die oond  afgestel na 100ºC vir die volgende 3 ure.

Toe ons later tuis kom,  het die heerlike geur van die lamskenkels en groente ons by die deur begroet.

Ek het die oond effens opgestel na 180ºC,  daarna die deksel verwyder en die gereg vir so 5 – 10 minute teruggeplaas in die oond.   Eintlik net om die aartappels so ‘n effense bruingebakte afronding te gee.

Die lamsvleis het van die skenkel afgeval toe ek dit uitlig om te sny,  die aartappels was heerlik geurig deurtrek met die sous van die vleis en die botterskorsie  was ons geurige porsie groente om die lekkerte mee af te rond.

Wees dus gerus op die uitkyk vir die heel lamskenkels vir ‘n geurige oondskottelgereg.