Lewensbrood

Josua 10

28   Daardie dag het Josua ook Makkéda ingeneem en dit met die skerpte van die swaard verslaan; en sy koning, die stad self en al die siele wat daarin was, het hy met die banvloek getref sonder iemand te laat oorbly wat vrygeraak het; en met die koning van Makkéda het hy gedoen net soos met die koning van Jérigo.

29   Toe trek Josua oor en die hele Israel met hom saam van Makkéda na Libna om met Libna oorlog te voer.

30   En die Here het dit ook met sy koning in die hand van Israel gegee, en hy het dit verslaan met die skerpte van die swaard en al die siele wat daarin was; hy het niemand daarin laat vryraak nie; en hy het met sy koning gedoen net soos met die koning van Jérigo.