VSA: Biden kry teenstand van sy party

Speaker Pelosi

Die linkse Demokratiese Party van President Joe Biden is erg verdeeld in die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers oor die president se $1.2 triljoen projek om infrastruktuur te verbeter.

Die Huis se speaker, Nancy Pelosi, het die belofte van ʼn stemmery oor die saak teruggetrek nadat die Demokrate nie genoeg steun uit eie geledere kon mobiliseer om die projek goed te keur nie.

Die gebeure het die diep gewortelde onderlinge verdeeldheid in die Demokrate herbevestig, en word daar nou bespiegel dat Biden nie sy projek van die grond af gaan kry nie.

Van die Demokrate het aanvanklik gedink die enorme $1.2 Triljoen projek gaan “baie maklik goedgekeur word”, maar die linkses het nie rekening gehou met die groot aantal afgevaardigdes wat sterk gekant is teen so ʼn reuse bedrag se uitgawes.

Die republikeine het eendragtig hulle teenkanting laat blyk teen die projek wat die grootste finansiële uitgawe sou wees in die geskiedenis van die Amerikaanse politiek.

Kenners wys daarop dat Biden reeds sy hand oorspeel het toe hy die sosiale ondersteuning aan Amerikaners voorgestel het, en wat goedgekeur is ten bedrae van $3.5 triljoen. Sy adviseurs het hom daarna verwittig dat die VSA se uitgawes nou so hoog is dat verdere projekte nie wenslik sal wees nie.