Verkiesingsdag vakansiedag

Te midde van die swak ekonomiese toestand waarin Suid-Afrika hom bevind, en die massiewe werkloosheid, het die paniekbevange ANC regering besluit om 1 November vanjaar as vakansiedag te verklaar.

Die ANC se president, Cyril Ramaphosa het aangekondig dat 1 November ʼn openbare vakansiedag sal wees vanjaar, terwille van die munisipale verkiesing wat op die dag gehou word.

Waarnemers reken die ANC is paniekbevange dat die opkoms na stemlokale die laagste ooit gaan wees weens die wantroue wat duisende kiesers het in die regerende party.

Die aankondiging kom as ʼn skok in die geledere van die sakelui wat ʼn verbete stryd voer om staande te bly weens die uitermatige swak finansiële stand van sake en die geweldige werkloosheid wat veroorsaak dat sakeondernemings dit moeilik vind om kop bo water te hou.

Ramaphosa het gesê die stap is geneem om alle kiesers die geleentheid te gee om by die stemlokale op te daag om ʼn kruisie te trek, maar politieke ontleders is van mening dat diegene wat besluit het om nie te gaan stem nie, steeds gaan wegbly.