Serwiërs en Kosovo bereik ooreenkoms

Die spanning tussen die Serwiërs en Kosovo is ietwat verlig nadat die twee volke ʼn ooreenkoms kon bereik om hulle weermag soldate aan beide kante van die grens terug te trek.

Die dispuut en dreigende konflik het ontstaan toe daar verskille was oor lisensies wat albei lande daartoe beweeg het om soldate na die grens te stuur om seker te maak die grens word beveilig en nie deur die buurland geskend nie.

Die ooreenkoms is blykbaar met die hulp van die verteenwoordigers van die Europese Unie bereik wat later bevestig het dat ʼn werkbare oplossing gevind is na twee dae van onderhandelings.

Die dispuut het ontstaan toe Kosovo spesiale polisiemagte by die grens opgestel het wat voertuie van Serwië gestop het om verder te ry, omdat die 10-jaar ooreenkoms oor voertuig nommerplate verstryk het. Die polisie het die Serwiese voertuig eienaar verplig om die nommerplate te verwyder voordat hy verder mag ry in Kosovo gebied.

Woedende Serwiërs in Kosovo het gevolglik met groot vragmotors die paaie by grensposte geblokkeer, wat gelei het tot erge spanning. Beide lande het soldate na die grens gestuur, maar die tussenbeide tree van die EU verteenwoordigers, het gesorg dat ʼn ooreenkoms bereik kon word.