Pandemie laat Ster Kinekor struikel

Die vermaaklikheid wêreld word ook swaar getref deur die koronavirus pandemie en die grendel maatreëls wat dit tot gevolg gehad het in die afgelope 18 maande.

Die sakereddingspraktyk van Ster Kinekor, Stefan Smythe moes noodgedwonge verdere tyd vra tot einde November om ʼn werkbare reddingsplan op te stel.

Smythe vra die uitstel omdat dit nodig geword het nadat samesprekings gehou is met die partye wat belangstel om te belê in Ster Kinekor.

Volgens hom is daar goeie en stabiele vooruitsigte vir die maatskappy aangesien daar nou ʼn toename is van mense wat volledige immunisering ondergaan het en nou terugkeer na die filmteaters.

Volgens gegewens beskikbaar, is daar maandeliks ʼn merkbare toename in getalle van mense wat die filmteaters besoek, wat ʼn betekenisvolle tendens is.

Waarnemers reken die aankondiging dat Suid-Afrika na Vlak 1 beweeg het, sal ʼn aansienlike verskil maak aan teater besoeke.