Motor rubriek – Volkswagen Tiguan 1,4 TFSI R-Line

Wanneer die ingenieurs van Volkswagen ‘n voertuig opgradeer, word dit deeglik gedoen. Die heel nuutste weergawe van die Tiguan is ‘n goeie voorbeeld daarvan en die bakwerk is gemonteer op Volkswagen se MQB onderstel.

Wanneer die voertuig van voor genader word, is die nuwe LED hoofligte wat deel vorm van die nuwe sierrooster met die bekende VW embleem daarop, breër voorste buffer ‘n sprekende voorbeeld. Deur gebruik te maak van chroomstroke op die sierrooster en ook op die onderste gedeelte van die luginlate, beklemtoon dit die moderne neiging vir die gebruik van chroomafwerking.

Wanneer die gewysigde enjinkap oopgemaak word, is daar ‘n vier silinder, 1395 kub. sentimeter, dubbel oorhoofse nokas, met vier kleppe per silinder, turbo petrol kragbron in plek. Hierdie kragbron voorsien 110 kW tussen 5000 en 6000 o.p.m en wringkrag van 250 Nm vanaf 1500 tot 3500 o.p.m. Met die hoeveelheid wringkrag beskikbaar vanaf lae toere, is die Tiguan in sy element op veral die nasionale paaie. Ingeligte bronne beweer dat dit moontlik is om van 0 tot 100 km/u te versnel in 9,2 sekondes, die topsnelheid is 200 km/u. en die brandstofverbruik is 8,0 l/100 km. Die brandstofhouer se grootte is 58 liter en daar kan dus ‘n aansienlike afstand afgelê word voordat dit nodig is om die brandstof aan te vul.

Die ratkas wat gebruik word is ‘n ses spoed DSG ratkas en die oorskakeling daarvan vind seepglad plaas. Met die wringkrag wat beskikbaar is teen lae toere, is die Tiguan in sy element in die berge wêreld en wanneer dit nodig word en die brandstof pedaal word plat getrap, skakel die ratkas terug met min moeite.

Wanneer daar in die voertuig ingeklim word, word ‘n wêreld van gerief betree. Die heel eerste wat deel uitmaak daarvan is die onderste, plat gedeelte van die dikraam, leer bedekte stuurwiel wat dit moontlik maak om met gemak in te klim. Op die stuurwiel is daar ‘n verskeidenheid van skakelaars aangebring waarmee toerusting beheer word. Die instrumente wat geinstalleer is bestaan uit ‘n toereteller aan die linkerkant en die snelheidsmeter aan die regterkant. Verskeie ander kleiner instrumente maak deel uit van die instrumentpaneel regvoor die bestuurder.

Die aanraakskerm is vergroot van 6,5 duim na 8 duim met VW se nuutste MIB3 elektroniese toerusting in plek. Deur dit te doen is dit makliker leesbaar en ander skakelaars in die onmiddelike omgewing sorg vir die beheer van ander toerusting. Bokant die aanraakskerm is die luguitlate van die lugversorger gemonteer met verdere uitlate aan die einde van die middel paneel. Van die toerusting wat ingesluit is, is die radio met AppConnect, snelheidsbeheer en ‘n elle lang lys van ander toerusting. Sateliet navigasie vorm deel van die toerusting en is ‘n handige hulpmiddel vir die bestuurder. Die normale grootte USB prop is vervang met die kleiner een maar daar is ‘n verleng koord in die voertuig beskikbaar, sou dit nodig wees om die gebruiklike groot poort in te druk.

Die ratkies hefboom is in die middel konsole gemonteer en pas gerieflik in die palm van die linkerhand. Die sitplekke getuig van sitkamer gerief en dit is oorgetrek met Vienna leer met elektriese verwarming vir koue toestande en die R-Line embleem, is op die sitplekke aangebring. Die voorste sitplekke is elektries verstelbaar en selfs op die verste terug geskuif is daar baie plek vir die bene van die agterste passasiers.

Van die kant gesien word die sykant vensters beklemtoon met ‘n chroom strook en al die sykant vensters word elektries oop en toegemaak. In middel van die agterste sitplek is daar ‘n arm leuning wat uitgevou kan word en dit maak dit vir die agterste passasiers ook gerieflik. Deur die speke van die allooi wielnawe is die remskywe van die ABS remstelsel te sien met ingeboude bykomende hulp vir wanneer gerem word. Die allooi wielnawe is geskoei met 255/45R 19 bande en dit vorm deel van die besonderse goeie padgedrag van die VW. Verdere toerusting wat deel uitmaak van die veiligheidstelsel is verskeie lugsakke binne in die voertuig met ‘n lugsak in die middelste gedeelte van die stuurwiel.

Van agter gesien is die ovaal uitlaatpype in die agterste buffer gemonteer met nuwe LED agterligte en ‘n ingeboude drukvlerk in die agterste klap. Die klap maak elektries oop en dit is gerieflik wanneer bagasie gelaai moet word. Die grondvryhoogte is 189 mm en die draaisirkel is 11,5 meter. Die laai ruimte kan van 520 liter tot 1655 liter bagasie neem. Dit beteken dat sou daar ‘n besoek gebring word aan die see of die wildtuin, kan daar genoeg bagasie gelaai word vir ‘n geruime tyd.

Hierdie is ‘n sportnuts voertuig van formaat wat eintlik ‘n veeldoel voertuig is wat deur die Bestuurder van ‘n maatskappy gebruik kan word of deur moeder om die kinders skooltoe en terug te neem. Sou u dus u bestaande voertuig wil vervang met ‘n nuwe een, kan u gerus u naaste Volkswagen handelaar gaan besoek en dit vir ‘n toetsrit neem.