Motor rubriek – Haval Jolion 1,5T

Die Jolion is die nuutste toevoeging tot die Haval reeks en van voor beskou, lyk dit heel indrukwekkend.

Op die sierrooster is daar gebruik gemaak van ‘n groot hoeveelheid chroomafwerking en die voorste buffer is gerond met luginlate onder die hoofligte. Die hoofligte skakel outomaties aan en af en die bou vorm daarvan pas in by die algemene moderne bou van die Haval.

Wanneer die enjinkap oopgemaak word is daar ‘n vier silinder, 1497 kub. sentimeter, met turbo aanjaer, multi-punt, petrol kragbron in plek. Vier kleppe per silinder word gebruik om brandstof in die enjin in te laat en van die uitlaat gasse ontslae te raak. Die krag beskikbaar tussen 5600 en 6000 o.p.m. is 105 kW en die wringkrag is 210 Nm tussen 2000 en 4400 o.p.m. Volgens die vervaardiger is die Jolion instaat om ‘n maksimum snelheid van 185 km/u te behaal. Aanvanklik was die Sjinees geboude voertuie se brandstofverbruik redelik hoog maar daar is wel ‘n verbetering merkbaar. Volgens die vervaardiger is dit 7,5 l/100 km maar ingeligte bronne se toetse dui daarop dat dit 9,00 liter/100 km is.

‘n Outomatiese ratkas hanteer die krag oorbrenging na die voorwiele en die hulpmiddels beskikbaar is ESC hulp en hulp om teen ‘n skotige opdraande te kan wegtrek. Die oorskakeling van die ratkas vind seepglad plaas en is moeilik waarneembaar. Van die kant gesien is die vloeiende lyne ‘n lus vir die oog en die deur handvatsels wat dieselfde kleur geverf is as die bakwerk, is versonk in die deure. Deur die speke van die 18 duim allooi wielnawe wat geskoei is met Kumbo Solus HS63 bande met ‘n grootte van 225/55 R18, is die 310 mm geventileerde skywe van die voorste ABS remme te sien en deur die speke van die agterste allooi wielnawe is die 295 mm soliede skywe van die agterste remme te sien. Die EBD en EBA hulpmiddels op die remstelsel verseker dat die voertuig met gemak en veiligheid tot stilstand kan kom. Deel van die veiligheidstelsel is verskeie lugsakke binne in die voertuig wat hulp verleen met die beskerming van insittendes ten tye van byvoorbeeld ‘n botsing.

Van agter gesien, skep die voertuig ‘n indrukwekkende prentjie! Die groot agterligte is om die hoeke gebou met die naam “HAVAL” in groot letters op die agterste deksel aangebring. Die deksel maak oop tot op ‘n hoogte van 1972 mm en die grongvryhoogte is 782 mm. en bagasie kan met gemaak gelaai word. Om te verhoed dat kwaaddoeners die bagasie in die bagasie ruimte sien, is daar ‘n deksel aangebring wat, wanneer die bagasiebak deksel laat sak word, is bagasie nie sigbaar deur die vensters nie. Die leuning van die agterste sitplek verdeel in ‘n verhouding van 60:40 en wanneer die rugleuning platgevou word, verhoog die volume van die bagasieruimte van 256 liter na 1288 liter. Terselfdertyd is daar dan meer plek om lang items te kan laai.

Deel van die veiligheidsitems is die sensors van die tru kamera wat in die agterste buffer gemonteer is. Dit verseker dat wanneer daar geparkeer word en daar is kleuters agter die voertuig, daar ‘n waarskuwing sein gehoor word.

Die padhouvermoë is van hoogstaande gehalte en dit is deels te danke aan die beproefde MacPherson stutte met spiraalvere en anti-rolstaaf op die voorste veerstelsel en ‘n wringstaaf met spiraalvere op die agterste veerstelsel.

Wanneer daar in die voertuig ingeklim word, word ‘n mens verras deur ‘n moderne maar tog praktiese afwerking aan die binnekant. Die sitplekke is met leer oorgetrek en daar is steun vir die liggaam op al die strategiese plekke. Deur die boonste speke van die leer bedekte, dikraam stuurwiel kan die instrumente gelees word. Aan die linkerkant is die toereteller en aan die regterkant is die snelheidsmeter. Op die stuurwiel is daar skakelaars aangebring om die toerusting te beheer.

In die middel van die instrumentpaneel is die aanraakskerm gemonteer en op dit is daar verskeie funksies vir die beheer van toerusting. Van die toerusting sluit in ‘n radio met stem beheer, AppleCar Play en Android Auto, ‘n lugversorger, snelheidsbeheer, rit rekenaar ensovoorts. Daar is nie die gewone ratkies hefboom in plek nie maar wel ‘n draai skakelaar wat gebruik word om die rat kiesing mee te doen. Verskeie ander skakelaars is in die omgewing van die draai skakelaar aangebring en dit maak weer deel uit van die middel konsole waar daar pak plek is vir kleiner items. Die nate van die sitplekke, die middel konsole, die instrumentpaneel word beklemtoon met wit stiksel en dit skep ‘n aangename indruk.

Die Haval bakwerk is op die L.E.M.O.N. onderstel gemonteer en is ‘n veeldoel voertuig wat veral handig te pas kan kom vir die natuur liefhebber wanneer die wildtuin byvoorbeeld besoek word. Wanneer ‘n sportnuts voertuig aangeskaf of vervang moet word, kan die Jolion gerus op die aankooplys aangebring word.