Die oplossing

Die verskyning van die gevreesde koronavirus met al sy variante het die ganse wêreld verander in iets wat ongekend is van alle tye.

Die uiteindelike ontwikkeling van die immunisering entstof is aanvanklik beskou as die finale antwoord om die virus te laat verdwyn en die mensdom weer sy gevestigde leefstyl kon hervat.

Met die ontdekking dat die entstof slegs vir etlike maande beskerming bied, en daardie beskerming slegs ʼn 80% sekerheid is, het dit gou duidelik geword dat die inentings nie die einde van die virus sal wees nie, en sal hy soos die griepvirus wat ons ken, permanent by ons wees.

Die Vryburger het per geleentheid gerapporteer dat die antwoord op ʼn ander vlak is as wat tot nou ontwikkel is. As daar nie ʼn entstof is wat permanente immuniteit bied nie, dan is die oplossing dat medikasie in die vorm van mondelingse inname die beste oplossing sal wees.

Dit lyk of daardie gedagte wat reeds maande gelede geopper is, nou werklikheid geword het en dat wetenskaplikes in farmaseutiese vervaardigers dieselfde gedagte het, en nou is die eerste antivirale pille ontwikkel om te gebruik wanneer infeksie opgedoen is.

Ingeligte bronne wys daarop dat talle vervaardigers in die farmaseutiese bedryf besig is om navorsing te doen om ʼn doeltreffende pil of kapsule te ontwikkel wat gebruik kan word as geneesmiddel.

Dit is die beste oplossing, want ʼn inenting wat permanente immunisering bied teen ʼn virus, is nog nie werklik vervaardig nie, en daarom sal medikasie wat as geneesmiddel gebruik kan word, die mees praktiese oplossing wees.