BCVO moet gereed wees

Die aankondiging dat die ANC regering van voorneme is om die geskiedenis te herskryf en leerlinge van graad 10 tot graad 12 te verplig om die vak op skool te neem, sal beteken dat die Boere-Afrikaners nou reeds moet beplan oor hoe die verdraaide geskiedenis met die ware gebeure reggestel gaan word.

Die wete dat die geskiedenis verander gaan word, is deel van die verwronge ideologie wat in die ANC geledere vasgevang is, en wat veroorsaak dat dit wat werklik saak maak, nie die verlangde aandag kry nie.

Suid-Afrika het voor 1994 goed presteer in internasionale mededinging met wiskunde en wetenskap, maar met die oornames het die vermoë ook verval soos alles verval het op elke ander lewensterrein.

Boere-Afrikaners word opgeroep om BCVO met kennis en advies by te staan wanneer dit nodig word om op0lossings te vind vir die nuwe krisis wat kom in die onderwys van Suid-Afrika.

Die geskiedenis van ons volk, wat strek oor bykans 400 jaar, mag nie verdraai en verwronge gelaat word weens politieke ideologieë wat bots met die waarheid nie.

Die Vryburger doen ʼn ernstige beroep op die BCVO en die CVO-skole se personeel om alles moontlik te doen om te verseker dat die geskiedenis vir ons leerlinge en vir die geslagte wat kom, behoue sal bly.