ANC tree onwettig op teen Pretoria

Die Konstitusionele Hof (KonHof) het Maandag beslis dat die Gauteng Provinsiale regering se besluit om die Pretoria Metro onder administrasie te plaas, soos dit verlede jaar gedoen is, ongrondwetlik en onwettig is.

Die provinsiale regering het in Maart verlede jaar tot die stap oorgegaan nadat die Pretoria Metro se stadsraad misluk het om ʼn aantal vergaderings te hou, en die koalisie van die DA en die Rooi Brigade inmekaar gestort het.

Die KonHof het bevind dat alhoewel daar buitengewone omstandighede was waarmee die stadsraad te kampe gehad het, was die optrede van die Administrasie ongrondwetlik.

Dit is nie die eerste keer dat die linkse DA ʼn hofsaak wen nie, want in April verlede jaar het die Hooggeregshof van Pretoria in die guns van die DA beslis, wat die regerende party toe ook verloor het.

Dieselfde het gebeur in Oktober 2020 toe die opposisieparty weer teen die owerheid gewen het in ʼn hooggeregshof saak.