Vulkaniese uitbarsting na dekades

Die Spaanse Kanariese Eilande was vir meer as 50 jaar sonder enige bedreiging van die vulkaan wat nou tot ʼn verwoede uitbarsting gekom het.

Die Kanariese Eiland, La Palma, het egter die afgelope 48 uur gesien hoe die rooiwarm lawa teen die berg stroom tot in die see.

Die La Palma dorp se burgemeester sê dat reddingswerkers ook die ander oorblywende inwoners behulpsaam was om die gebied te ontruim, uit vrees dat daar ongevalle kan wees.

Rooiwarm lawa, swaar rook en as wolke besoedel en bedek ʼn groot gebied, terwyl die ontruiming met moeite uitgevoer word.

Verskeie dorpe en woongebiede se inwoners is sedert die ergste gevaar tekens verskyn het, gevra om die terrein te verlaat waar lawa moontlik ontwrigting kan veroorsaak.

Sowat 6,000 van die meer as 89,000 mense wat op die eiland woon, was genoodsaak om hulle huis en haard te verlaat om van die gloeiende lawa te ontsnap.

ʼn Woordvoerder van die owerheid het bevestig dat geen ongevalle al aangemeld is nie.