Virus entstof doeltreffend?

In die afgelope weke het dit al duideliker geword dat die stryd teen die Covid-19 koronavirus met al sy variante, nog lank nie gewen en verby is nie.

Die teendeel is waarskynlik nader aan die waarheid. Die virus floreer nog regoor die wêreld. Die jongste verslae dui daarop dat daar genoeg rede bestaan om werklik bekommerd te raak oor die aangeleentheid.

In Brittanje is sowat 80% van die inwoners bo 18 jaar reeds ingeënt met die tweede dosis en meer is al ingeënt met die eerste dosis.

Die vreemde verskyning is dat die Verenigde Koninkryk steeds met 30,00 tot 35,000 nuwe infeksies elke 24 uur te kampe het. Waarnemers reken dat dit beteken die nuwe infeksies is nie net van mense wat nie ingeënt is nie, maar ook van mense wat reeds twee inentings gehad het.

Die vermoede bestaan reeds dat die entstof vir ʼn persentasie mense vir nie langer as 6 of 8 maande immuniseer nie, wat verklaar waarom so baie nuwe infeksies daagliks aangeteken word.

Meningsvormers het in reaksie hierop gesê daar bestaan geen rekords wat die versekering bied dat die entstof lewenslange beskerming sal bied nie, en die feit dat daar nou van ʼn derde dosis gepraat word, maak dat  baie mense skepties raak oor die doeltreffendheid van die entstof.