Uit my Kuierkombuis

Sjokolade …… wat ‘n wonderlike soetigheid!  So twee jaar gelede bak ‘n vriendin ‘n baksel brownies of soos ek graag daarna verwys as Bruintjies,  met blokkies sjokolade  daarby!  Die koekies was nou regtig ryk en lekker! Die vriendin is die afgelope twee jaar deur verskeie rug en nek operasies en na afloop van die laaste operasie was my vraag aan haar ……. wanneer sy weer tuis is wat gaan sy eerste bak?  Haar antwoord aan my: “Brownies”!

Die afgelope tyd het ek verskeie resepte gesien vir dié lekkerte en by een van die resepte was daar ‘n spesifieke voorstel om die gebak in ‘n spesifieke grootte bak te bak en om dit nie te lank te bak nie!

Sjokolade Bruintjies

375 ml wit suiker

180 ml koekmeelblom

160 ml kakaopoeier

125 ml versiersuiker

125 ml sjokolade splinters (choc chips)/ grof gekapte sjokoladeblokkies

3 ml sout

2 ekstragroot eiers

125 ml olie

40 ml water

5 ml vanieljegeursel

Metode:

  1.  Voorverhit die oond tot 160°C.
  2. Smeer of bespuit ‘n oondvaste bak van 20cm x 20cm en voer dit uit met bakpapier.
  3. Voeg die droë bestanddele alles saam in ‘n bak asook die sjokolade splinters en meng goed deur mbv ‘n balklitser.
  4. Klits die eiers, olie, water en geursel saam in ‘n mengbak.
  5. Voeg nou die droë bestanddele daarby en meng deur.  Die beslag lyk aanvanklik asof die vloeistof te min is,  maar dit is nie die geval nie.  Die beslag vertoon wel dik.
  6. Skep nou die beslag uit in die voorbereide pan en maak die oppervlakte gelyk.
  7. Plaas in die voorverhitte oond van 160°C en bak vir 35 tot 40 minute.
  8. Laat die baksel effens afkoel voordat dit in blokkies gesny word. (Ek het na so 10 minute die baksel versigtig met die bakpapier en al uitgelig,  die bakpapier afgetrek en dit toe op ‘n houtbord versigtig in blokkies gesny)
  9. Geniet ‘n heerlike happie sjokolade bederf en plaas die res van die blokkies in ‘n lugdigte houer.

Wenke:

** Die bak moet nie groter as die voorgestelde afmetings wees nie, want dan sal die beslag te dun wees en oor gaar bak.

**  Bak die beslag ook nie langer as die voorgestelde tyd nie,  anders is die  tekstuur baie hard en nie die verlangde sagte tekstuur in die middel nie.

Geniet elke happie van die sjokolade lekkerte