Uit my Kuierkombuis

Ek sorg altyd dat  daar een of meer pakkies pasta in my koskas is omdat dit vir soveel geregte gebruik kan word. 

Wikipedia het die volgende as agtergrond oor pasta ……………..

Pasta is ’n tradisonele Italiaanse stapelvoedsel. Die eerste verwysing daarna kom in 1154 in Sisilië voor.

Dit is ’n noedel wat van ongegiste deeg van durumkoringmeel, gemeng met water of eiers, gemaak en in verskillende vorms vervaardig word. Dit word gekook of gebak. Meel van ander soorte graan kan ook gebruik word. Pastas kan breedweg in twee soorte verdeel word: gedroog  en vars.

Die meeste droë pastas word vervaardig deur middel van ’n persingsproses, maar dit kan ook tuis gemaak word. Vars pasta is tradisioneel met die hand gemaak, soms met behulp van ’n eenvoudige masjien, maar vandag word baie soorte vars pasta ook kommersieel met groot masjiene vervaardig en is dit algemeen in veral spesialiteitswinkels te kry.

Beide droë en vars pasta is in ’n verskeidenheid soorte en vorms verkrygbaar; 310 spesifieke vorms is bekend en meer as 1 300 name is al opgeteken. 

In Italië wissel die naam van spesifieke vorms pasta dikwels van plek tot plek. Die vorm cavatelli is byvoorbeeld onder 28 verskillende name bekend, na gelang van die streek of dorp. Algemene soorte pasta sluit in plat, lang, dun of buisvorms. 

Droë én vars pasta word in Italiaanse kookkuns in drie kategorieë geregte gebruik: Pasta asciutta is ’n gekookte pasta wat met ’n sous of smaakmiddel voorgesit word; in pasta in brodo is die pasta deel van ’n soort sopgereg; en in pasta al forno is die pasta in ’n gereg wat gebak word.

Pasta is gewoonlik ’n eenvoudige gereg, maar daar is baie verskillende soorte vanweë die veelsydigheid daarvan. Sommige pastageregte word in klein, eenvoudige porsies as ’n eerste gang voorgesit. Pasta word ook in ligte middagetes gebruik, soos in slaaie, of groot porsies vir aandete. Dit kan warm of koud voorgesit word. Pastasouse wissel in smaak, kleur en tekstuur. Wanneer ’n soort pasta en sous gekies word om saam voor te sit, is daar gewoonlik algemene reëls wat geld. Eenvoudige souse soos pesto is ideaal vir lang, dun vorms, terwyl tamatiesous goed saam met dikker pastas gaan. Dikker souse klou ook makliker aan die gate en groefies van buisvormige of gedraaide pastas. Die ekstra sous wat ná die ete op die bord agterbly, word dikwels met ’n stuk brood opgevee.

Na afloop van die naweek se familie braai,  het daar ‘n paar stukkies vleis oorgebly wat ek toe deel gemaak het van ‘n heerlike eenskottel pasta gereg.

Braaivleis pasta gereg

375g pasta skulpe (rou)

500 – 750 ml gaar braaivleis dun opgesny

300 ml oorskiet tamatie en uie smoor

375 ml cheddar kaas gerasper ** (helfte in die witsous en die res bo-oor die gereg)

1 liter witsous medium dik (gegeur met sout en witpeper na smaak)

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 180°C
  2. Kook die pasta skulpe (of skroefpasta) soos aangedui op die pakkie tot gaar  en dreineer.  Plaas dit onderin die oondvaste opdienbak en hou eenkant.
  3. Maak intussen die witsous
    1 liter melk,
    30 ml  botter,
    150 ml koekmeel gegeur met sout en witpeper na smaak.
     ** Roer oor matige hitte tot witsous dik en gaar is.

 ** Voeg die helfte van die gerasperde kaas by die witsous.

  1. Skep nou die tamatie en uie smoor oor die pasta asook die opgesnyde braaivleis stukkies en skep die witsous eweredig oor die gereg.
  2. ** Rond die witsous af met die res van die gerasperde kaas.
  3. Plaas die gereg in die voorverhitte oond en bak vir 20 minute tot goudbruin.
  4. Bedien saam met ‘n porsie mengelslaai en geniet die braaivleis geurigheid weer van voor af!