Uit my Kuierkombuis

Sondagaande is ons en die kinders se skon-aand.  Daar is verskillende resepte wat dan beproef word en sommige word weer en weer aangemaak.  Tussenin wissel ons die skons af met vetkoek,  pannekoek,  wafels en plaatkoekies.  Die afgelope Sondagaand het ek die heerlike mayonnaise skons gemaak wat heerlik klam binne en bros buite bak.

Mayonnaise skons

(lewer 12 middelslag skons)

Bestanddele

500 ml koekmeelblom

10 ml bakpoeier

2,5 ml sout

250 ml melk

60 ml mayonnaise

Metode:

  1. Voorverhit die oond  tot 200°C.
  2. Klits die mayonnaise en melk saam tot gemeng.
  3. Sif die droë bestanddele saam en voeg dit by die melkmengsel.
  4. Gebruik ‘n mes en sny die bestanddele in tot goed gemeng.
  5. Smeer of bespuit ‘n bakplaat en skep opgehoopte desertlepels vol hopies deeg op die voorbereide bakplaat.
  6. Bak in die voorverhitte oond by 180°C vir 20 minute tot goudbruin gebak.
  7. Verwyder die bakplaat uit die oond,  kry die botter, stroop, gerasperde kaas en konfyt byderhand en sit dit voor saam met die warm skons.

Hierdie resep kan ook verdubbel word. Die skons kan ook die vorige aand gebak word.  Sodra dit goed afgekoel is,  kan dit in ‘n lugdigte houer verpak word.  Die volgende dag sny u dit deur met ‘n skerp mes,  smeer ‘n lagie botter en versier met aarbei- of appelkooskonfyt  afgerond met ‘n ringetjie styf geklopte room of as sout bedekking,  fyn biltong of fyn gerasperde kaas.  Die styf geklopte room kan ook in ‘n bakkie in die middel van die bord soet skons geplaas word sodat elkeen sy eie skeppie room kan byvoeg.

Garneer die bord met soet skons met kruisement of aarbei blare en die sout skons met gesnipperde pietersielie en blaarslaai.