TLU SA laat landbou leef

TLU SA het landbou vandag behoorlik laat leef met goeie nuus en oplossings vir die kommersiële boere van Suid-Afrika.

Een van die aankondigings wat lede laat juig het, is ‘n nuwe ooreenkoms met Verco Energy wat goedkoper diesel aan TLU SA-lede sal verskaf. Lede in groot dele van die Oosstreek (Mpumalanga), Sentraalstreek (Gauteng) en dele van die Noordstreek (Limpopo) en Vrystaat sal van hierdie aanbod gebruik kan maak. Lede sal 45c per liter minder betaal en TLU SA sal dan ook ’n rabat van 20c per liter ontvang. 
“Ons boere is onder geweldige druk met die voortdurende styging van pryse van insetkostes, soos brandstof en kunsmis,” sê mnr. Henry Geldenhuys, die president van TLU SA. “Ons onderhandel daagliks met diensverskaffers om ons boere volhoubaar op hulle grond te hou. TLU SA is dankbaar vir diensverskaffers wat besef hoe belangrik die totale waardeketting vir die voortbestaan van landbou is.”
Verder is ‘n jarelange droom om ‘n TLU SA Winkel met “gebrandmerkte” klere bekend te stel, vandag ook verwesenlik. Ons nooi lede, vriende en ondersteuners om in te loer by https://winkel.tlu.co.za/ om hemde met TLU SA se logo daarop geborduur, te bestel.

“Dit is vir ons so lekker om as ‘n groep saam uit te staan en hierdie amptelike drag is juis ontwikkel om hierdie gevoel van samehorigheid te bevorder,” sê mnr. Geldenhuys. “Ons hoop om binnekort al ons lede in ons boerhemde, pronkhemde of werkhemde te sien!”.

Tydens die Kongres is mnre. Henry Geldenhuys en Wannie Scribante weer (en eenparig) in hulle ampte as president en adjunk-president verkies. Mnr. Geldenhuys het lede bedank vir die vertroue wat hulle in hom stel en beloof om landbou altyd voorop te stel.

Die jaarlikse wenners van die verskeie uitdagings en kompetisies word ook tydens die Kongres aangekondig:

  • Goliat van Gat Pampoenkompetisie Trofee – Wykus Lamprecht van Meyerton met ‘n pampoen van 790 kg;
  • Kiepersol Trofee vir die Boere-unie van die jaar – Cullinan Boere-unie vir die Goliat van Gat kompetisie;
  • LWO/TLU SA Arbeid Skild vir gesondste arbeidspraktyke – Johan Kense van die Devon Boere-unie;
  • Charles Baber Trofee vir hulpbronbewaringsprojekte wat geloods en deurgevoer word – Swartruggens DLU vir hulle rol om lopende water in die streek weer aan die gang te kry;
  • Willie Marais Trofee vir die beste kommunikasie oor TLU SA se boodskap en landbou – De Wildt Boerevereniging met hulle nuusbrief;  
  • TLU SA Landelike Veiligheid Trofee: Individuele wenner – Celia Beukes;
  • TLU SA Landelike Veiligheid Trofee: Affiliasie wenner – Potgietersrus DLU;
  • Commondale Trofee vir Beste Boerevereniging – Roedtan-Suid Boerevereniging vir effektiwiteit;
  • RF Camphor Beker vir die Beste Distrikslandbou-unie – Potgietersrus Distrikslandbou-unie onder leiding van Floris Booysen en Renita Prinsloo;
  • Intfin Skild vir die Beste Sekretaresse/Sekretaris – Renita Prinsloo van Potgietersrus Distrikslandbou-unie;
  • Presidentbeker vir Jongboer-betrokkenheid – Lukas Eksteen van die Potgietersrus DLU;
  • Isaac Greenberg Beker vir die Beste Streek – Sentraalstreek onder leiding van Derick Kuün as Streekvoorsitter en Lynette du Plessis as Streekbestuurder;
  • Die eerste vroulike ontvanger van die Nico Kilian Trofee vir die Landboupersoonlikheid van die Jaar 2021 – Erika Helm, voorsitter van die Plaaslike Regeringskomitee.
    “Ons wens al hierdie wenners geluk met die toekennings,” sê mnr. Geldenhuys. “Dit is vir ons verblydend dat ons lede verantwoordelikheid neem om landbou volhoubaar te beskerm.”