Staatsgreep in Guinee

Die eerste berigte ui die Wes-Afrika staat Guinee dui daarop dat ʼn staatsgreep moontlik uitgevoer is en dat die president, Alpha Conde, deur gewapende militariste omring en aangehou word.

Die staat se TV kanaal het aangekondig dat ʼn nasionale aandklokreël ingestel is wat “tot latere kennisgewing” van krag sal bly.

Video materiaal word vrygestel wat toon hoe die president aangehou en opgepas word deur soldate wat deel uitmaak van diegene wat die staatsgreep uitgevoer het.

Militêre offisiere het op die TV kanaal gesê die armoede en korrupsie wat heers het dit nodig gemaak om te verhinder dat die president die derde termyn dien as staatshoof.

Die hoof van die elite weermag afdeling Mamady Doumbouya, se die chaos wat heers het sy soldate daartoe gedryf om die president uit sy pos te verwyder om die korrupsie te stop.

ʼn Weermag woordvoerder sê egter dit is ʼn klein groepie soldate wat die kaping uitgevoer het, en dat die totale weermag nog staan by die president wat tans in aanhouding is.