Spesiale perspektief: Erfenis

Wanneer ons na ons volks-erfenis kyk, is daar baie om oor mismoedig te voel.

In die woorde van president Kruger: “veel van wat opgebou was, is nou verwoes”.

Tog spreek hierdie verwoesting positief van ons erfenis.

Juis die herinnering dat dit eens beter, welvarend, veilig, netjies was, BEVESTIG aan ons dat daar eens ʼn trotse erfenis was – ook trots ín ons erfenis.

Oor die verlies van deel van ons erfenis (ons land; ons politieke selfbeskikking), die skuldiges en die laakbaarheid van hulle optrede, kan ons volstaan met:

            ONTHOU, sodat ons of ons kinders en kinds-kinders nie die foute herhaal nie.

            ONTHOU, en moet nie hande vat met manteldraaiers nie.

            Maar VERGEET hulle nalatenskap, sodat húlle erfenis tot niet mag gaan!

Daar is wel één aspek van daardie verlies waaruit ons lewensbelangrike lesse moet leer:

Die laakbare optrede van volks-verraaiers en die gewillige meelopers was slegs moontlik gemaak deur grootskaalse apatie oor ons land en ons selfbeskikking.

            Apatie wat die direkte gevolg was van dekade lange geloof verval.

Die deursnit volksgenoot het lou geword, kerke wêrelds en die meerderheid materialisties …

Daarom moet ons waardering hê vir die herontwaking wat ons bemerk, veral wat betref die kultuur-historiese-, maar boweal die geloofsankers in ons volk.

Want terwyl ons volk oor meer as drie eeue veel vermag het, sal eerlike beskouing etlike waarhede tuisbring:

            Ons volk was nooit sterker as in 1815, 1838, 1880 of 1902 nie.

Nie net was dit historiese laagtepunte nie, dit was laagtepunte wat ons voorsate telkens terug gebring het na hulle geloof, die Woord en die God wat ons hier beskik het.

Naas hierdie vaste grondslae, was daar dan die karakter wat, danksy die geloofsmoed, na vore getree het.

Karakter wat deur die duisternis kon sien daar is lig – maar óók met die wete dat die volk moet WERK na daardie lig!

Ons volk gaan ten gronde weens ʼn gebrek aan kennis:

            Kennis van waar (in Wie) ons krag en volks-adel geanker is.

            Kennis van ons kultuur-historiese erfenis.

Kennis dat selfbeskikking slegs tot volle ontplooiing kan kom binne volksverband, gegrond in suiwer geloof, met vlyt en toewyding.

Híérdie erfenis moet ons nie net herontdek nie, maar met ywer en in opregtheid weer ons eie maak.

Selfbeskikking word nie verwerf by ʼn stembus, ten behoewe of selfs danksy die bedrywighede van die politiek nie.

Dit word GEBOU.

Dit word gebou deur eie arbeid, deur eie skole wat ons kinders toerus met sowel die waardes as toepassing van vaardighede – toepassing geskoei in daardie waardes.

GELOWIGE GESINNE is waarmee vryheid gebou word – gesin na gemeente na gemeenskap.

In die 1830’s was daar geografiese ruimte; in 1880 en na 1902 was daardie ruimte meer beperk, maar nogtans toeganklik.

Vandag moet ons volk nuut dink oor ons selfbeskikking.

Maar beskou ons ons kultuur-historiese erfenis, deur die oë van geloof, sal ons dit herbou.

Ons toekoms en ons selfbeskikking begin in terugkeer na die geloofswortels van weleer.

Ons praktiese bereiking daarvan berus op elke plaaslike gesin en gemeente / gemeenskap – ons moet ons eenheid terugvind geskoei op geloof, en wie die geloof nie wil herstel nie, moet uit die volkslaer geban word.

Dit gaan wedersydse dienswilligheid verg van elkeen vir wie God, volk en land ʼn waardevolle erfenis is en bly.