Reserwebank oorweeg R10 muntstuk

ʼn Kommissie van die Suid-Afrikaanse Reserwebank wys daarop dat daar ʼn ekonomiese rede is vir die instel van ʼn R10 muntstuk wat die bestaande R10 noot sal vervang.

Daar bestaan egter onsekerheid oor hoedanig die publiek die muntstuk sal aanvaar, want dit is van groot belang dat sodanige verandering aanvaarbaar sal wees.

Ingeligte bronne reken die muntstuk sal nie baie gewild wees nie, aangesien dit aansienlik swaarder as die R5 munt sal wees, en lastig kan word as meer as een in ʼn sak gedra word.

Die Reserwebank neem die finale besluit oor sulke aangeleenthede, en is ook gevra om oorweging te gee aan ander moontlikhede wat die besluit oor die R10 noot se toekoms kan beïnvloed.

Faktore soos die koopkrag van die Rand, wat neig om al swakker te word, en die algemene tendens wat inflasie veroorsaak en toon, moet ook in aanmerking geneem word.