Pole weier om voor EU te swig

Die Europese Unie se Hof vir Geregtigheid het Pole beboet met €500,000 per dag solank as die land se steenkoolmyn op die grens met die Tsjeggiese Republiek voortgaan met ontginning.

Die hof het beveel dat die Turow koolmyn gesluit word weens die besoedeling wat dit veroorsaak in die buurland, maar die Poolse Eerste Minister, Mateusz Morawiecki, het geweier om gehoor te gee aan die hofbevel.

Die gevolg is dat Pole nou ʼn daaglikse boete van ʼn halfmiljoen euro opgelê word, maar wat die uitkoms van die dispuut gaan wees, sal slegs die tyd aanwys. Die Poolse premier het egter ʼn uitdagende houding ingeneem nadat die hof die boete opgelê het indien die myn se werksaamhede nie gestop word nie.

Die Eerste Minister het in geen onduidelike taal gesê Pole gaan nie die Rurow myn sluit nie want dit gaan miljoene Poolse families sonder elektrisiteit laat.

 Politieke waarnemers sê die aangeleentheid kan in ʼn groot diplomatieke krisis ontaard en die Poolse regering gaan nie maklik swig voor die EU en die buurland se eise nie.