Plunder nadraai laat regering struikel

President Cyril Ramaphosa van die ANC sê die opstand en plunder in Natal en Gauteng het ernstige nagevolge vir die land se ekonomie veroorsaak.

Die ANC regering het die land se ekonomie in die afgelope kwarteeu afgetakel tot rommelstatus, en die plunderende diewe van Juliemaand in die twee provinsies, het die land nog nader aan die finansiële afgrond gedwing, sê ekonome wat die toestand ten nouste volg.

Ramaphosa sê die plundery het veroorsaak dat 12 miljoen mense nou aansoek gedoen het vir die R350 maandelikse werkloosheid toelaag.

Hy sê dit weerspieël die vlak van werkloosheid wat tans bestaan in Suid-Afrika, en wys dan op die terugslag wat die plunderaars veroorsaak het. Die gebeure in die twee provinsies het die regering se plan om ekonomiese herstel te begin, geweldig nadelig getref.

Volgens die president is die Departement van Sosiale Ontwikkeling in proses om die aansoeke vir die R350 per maand te oorweeg nadat dit die vorige Oktober ten einde geloop het, en weer ingestel is.

Ekonome sê die 12 miljoen aansoekers sal beslis nie almal gehelp word nie, want dit is reeds onbekostigbaar soos dit tans is, en met die land se verdere agteruitgang op ekonomiese gebied, is dit nie haalbaar om die sosialistiese praktyk verder te voer nie. Die mening is uitgespreek om veel eerder met projekte te begin wat mense sal laat werk, eerder as om bakhand te staan, is gesê.