New York verdrink onder vloedwater

Aanhoudende en deurdringende stortreën wat glo deur Orkaan Ida veroorsaak is, het die Amerikaanse stad New York se strate in jong riviere omskep.

Vloedwaters het duisende geboue oorstroom, en reddingswerkers vaar met rivierbote in die strate om vasgekeerde mense na veiligheid te bring.

ʼn Noodtoestand is afgekondig vir New York sowel as vir New Jersey waar die toestande ook ewe benard is. In die oorstroomde gebiede is reeds meer as 40 mense dood in die vloede wat oor minstens vier deelstate strek.

Woordvoerders sê baie mense het omgekom toe hulle deur die vloedwaters vasgekeer is in die onderste deel van hulle wonings, terwyl ander in voertuie vasgekeer was.

Motors is deur die water meegesleur en dosyne motors het onder die water verdwyn toe massas water deur die strate van New York soos rivier strome gevloei het.

Mense in New York, New Jersey en Pennsilvanië is die swaarste getref en in New jersey is minstens 25 mense se dood aangeteken wat in die watermassa omgekom het.