Motor rubriek – Mitsubishi Expander 1,5 a/t

Mitsubishi is bekend daarvoor dat dit ‘n betroubare voertuig is wat dit bewys het met baie ondervinding en suksesse in die renmotor wêreld. ‘n Plek waar dit veral uitstaan is in die tydren wêreld. Ondervinding opgedoen onder hierdie omstandighede word dan deur die ingenieurs teruggeploeg in die pad voertuie. Die Expander word in Cikarang, Wes Java gebou en die ontwerp ingenieurs van Mitsubishi het deeglike werk gedoen en kan trots wees op wat hulle bereik het.

Die Expander is verkrygbaar met ‘n vyfspoed handratkas of vierspoed outomatiese ratkas.

Die outomatiese ratkas se oorskakeling geskied seepglad en die reaksie stem baie ooreen met ratkas van die Suzuki Brezza. Op die lang pad of dorp/stad, enige plek, is dit in sy element. Padhouvermoë is van goeie gehalte en met die Mitsubishi 4A91 kragbron van 1499 kub. sentimeter, dubbel oorhoofse nokas, sestien klep enjin wat 77 kW voorsien by 6000 o.p.m en wringkrag van 141 Nm by 4000 o.p.m beskikbaar stel, is dit moontlik om selfs skotige opdraandes met gemak kaf te draf. Volgens ingeligte bronne versnel dit van 0 tot 100 km/u in 13,8 sekondes, die topsnelheid is 170 km/u en die brandstofverbruik is 8,4 liter/100km.

Wanneer die grootte van die sportnuts voertuig met mededingers vergelyk word, is die Expander so effe groter. Dit is 4475 mm lank, 1750 mm breed en 1730 mm hoog. Grondvryhoogte is 205 mm en dit maak dit maklik wanneer bagasie in die bagasieruimte gelaai moet word. Die derde ry sitplekke se leuning vou plat in ‘n verhouding van 50:50 en wanneer dit gedoen word verhoog die bagasieruimte volume van 495 liter na 1600 liter.

Die vooraansig trek dadelik die aandag weens die bouvorm. Halogeen hoofligte vorm deel van die sierrooster met die bekende Mitsubishi ster op die sierrooster met mat swart afwerking, gemonteer. Kolligte is in die onderste luginlaat gedeelte gemonteer en verlig die pad goed wanneer daar gedurende die nag gereis moet word.

Langs die kant is daar bykomende nate ingepers wat die bakwerk versterk en in die deure is daar bykomende versterking aangebring wat die insittendes tydens sykant botsings beskerm. Deel van die veilgheid struktuur is lugsakke wat binne in gemonteer is asook ABS remme met EBD hulp. Deur die speke van die 15 of 16 duim allooi wielnawe – afhangende van die eienaar se keuse, kan die skywe van die skyfremme gesien word. Verdere veiligheid toerusting wat geinstalleer is bestaan uit waarskuwing toerusting vir voetgangers, deure wat gesluit kan word sodat kinders dit nie kan oopmaak nie, baba sitplek monteer punte, reik en hoogte verstelling vir die dikraam stuurwiel met beheer skakelaars vir die toerusting, lugversorger, radio met stembeheer, elektries beheerde sykant vensters, drie kragproppe, ‘n USB prop vir toerusting en ‘n totaal van sewe sitplekke asook bêre plek in die deure vir kleiner items. Wat ook deel van die veiligheidstoerusting vorm, is ‘n buite kamera aan die agterkant wat parkering vergemaklik.

Binne-afwerking is van ‘n hoë standaard en regvoor die bestuurder deur die boonste gedeelte van die stuurwiel kan die snelheidsmeter en die toereteller gesien word. In die middel van die instrumentpaneel is die aanraakskerm gemonteer met beheer skakelaars onder die luguitlate vir onder andere die waaier ensovoorts. Die ratkieshefboom is in die middel konsole gemonteer met houers vir koeldrank, water bottels of koffie bekers.

Vir die agterste passasiers is die beenspasie vir volwassenes so effe beperk maar nie ongemaklik nie. Passasiers kan arm leunings deel wat dit gerieflik maak vir insittendes.Wanneer die tweede ry sitplekke agtertoe geskuif word, vermeerder die plek veral wanneer die derde ry sitplekke platgevou word in die vloer. Die sydeure van die Expander maak wyd oop en daar kan met min moeite ingeklim word. Danksy die bouvorm van die dak is daar meer as genoeg plek vir die insittendes met ‘n “lang lyf”. Wanneer die derde rye sitplekke platgevou word, kan voorwerpe van tot en met ‘n lengte van 103 cm lank ingepas word.

Hierdie is die ideale voertuig om kinders na sport byeenkomste te vervoer of vir die natuurliefhebber wanneer daarby die kus gehengel gaan word of ‘n wildtuin word besoek.

As agteras word ‘n wringstaaf stelsel gebruik met spiraalvere en deur dit te doen, is ‘n rit met die Expander van ‘n hoë gehalte en kan die sportnuts voertuig aan aanbeveel word. Indien u dus in die mark is vir so ‘n voertuig of u wil u bestaande voertuig vervang, kan u gerus u naaste Mitsubishi handelaar besoek en u vergewis van die kwaliteite van die Expander.