Motor rubriek – Mercedes Benz GLA200d 8G-DCT

Die heel nuutste weergawe Mercedes Benz GLA200d is tot ‘n mate ‘n verbetering op die vorige reeks. Heelwat veranderings het plaasgevind en dit is ‘n gewilde voertuig. Op die vlak waar dit kompiteer is daar ‘n wye reeks voertuie beskikbaar en kan ‘n keuse gemaak word maar aan die einde van die dag bly die Mercedes ‘n goeie keuse.

Wanneer dit van voor genader word is die bekende drie ster kenteken met chroomstroke aan weerskante opsigtelik en met die enjinkap oopgemaak, word ‘n mens weereens daaraan herinner dat dit ‘n Mercedes is want op die plastiese bedekking oor die 1950 kub. sentimeter, vier silinder, turbo aangejaagde, inlyn, dwars gemonteerde, met tussenverkoeler, direkte brandfstof inspuiting diesel kragbron is die silwer ster weereens prominent. Uiteraard is die druk verhouding in die kragbron hoog en dit is 15,5 tot 1 en die vier kleppe per silinder sorg dat die in en uitlaatgasse op die regte plek uitkom. Die krag beskikbaar tussen 3400 o.p.m. en 4400 o.p.m. is 110 kW en die wringkrag vanaf 1400 tot 3200 o.p.m. is ‘n handige 320 Nm.

Volgens ingeligte bronne is die Mercedes Benz instaat om van 0 tot 100 km/u te versnel in 8,76 sekondes en die topsnelheid is volgens die vervaardiger 205 km/u met ‘n brandstofverbruik van 5,10 l/100 km.

Die hoofligte vorm deel van die voorste buffer en kolligte is aan weerskante van die een luginlaat gemonteer. Om die bakwerk teen beskadiging van voorwerpe te beskerming, is daar in die wielboë en reg rondom die onderkant van die bakwerk swart plastiek stroke ingebou. Hierdie bakwerk is op MFA2 onderstel gemonteer en die luikrug bouvorm met ‘n effense helling na agter sorg dat die lugsleurkoëffisient 0,30 is. Wanneer daar op die snelweg beweeg word is die voertuig in sy element en met krag beskibaar teen lae toere, nog te meer wanneer daar in die dorp/stad beweeg word.

Vir gerief van die bestuurder is daar verskeie sensors aan die buitekant aangebring wat dien as waarskuwings wanneer daar byvoorbeeld geparkeer word. Op die dikraam, leer bedekte stuurwiel wat gerieflik in die hande van die bestuurder pas, is daar skakelaars aangebring vir die beheer van toerusting en al die sykant vensters word oop en toe gemaak d.m.v. skakelaars wat in die armleunings gemonteer is. Die sitplekke is met kuns leer bedek en die bestuurder se sitplek is meganies verstelbaar.

Die binne afwerking is van hoogstaande gehalte en regvoor die bestuurder is die instrumente gemonteer met die snelheidsmeter en die toereteller wat maklik leesbaar is. Ander kleiner instrumente is tussen dit gemonteer en in die middel van die instrumentpaneel is die aanraakskerm gemonteer. Drie luguitlate vir die lugversorger is onder die aanraakskerm gemonteer met twee verdere luguitlate aan die linker en regterkant. Onder die aanraakskerm is daar verdere toerusting gemonteer wat insluit die klankstel wat sorg vir die vermaak binne in die voertuig. In die middel konsole is die ratkieshefboom van die agt spoed outomatiese ratkas gemonteer en die ratkas se oorskakeling geskied so glad, dat dit moeilik waarneembaar is. Verdere hulp word verleen d.m.v. elektroniese stabiliteit beheer wat insluit hulp vir wegtrek teen ‘n skotige opdraande. Deel van die middel konsole sluit in bêre plek vir kleiner items.

Selfs met die bestuurder se sitplek op die verste terug geskuif, is daar meer as genoeg plek vir die agterste passasiers. Die sitplek leuning verdeel in ‘n verhouding van 60:40 en wanneer die leuning platgevou word, verhoog die volume van die bagasie ruimte van 368 liter na 1072 liter.

Veiligheid is ‘n hoë prioriteit en die ABS remstelsel met 315 mm geventileerde remskywe op die voorwiele en 300 mm soliede skywe op die agterwiele en verdere EBD en EBA hulp, verseker dat die Merc met gemak en veiligheid tot stilstand kan kom. ‘n Verdere veiligheid aspek is verskeie lugsakke wat binne in die voertuig gemonteer is vir die insittendes se beskerming teen beserings.

Deel van die goeie padhouvermoë is die gebruik van Bridgestone Puranza bande met ‘n grootte van 235/50 R19 wat op die veel speek allooi wielnawe gepas is en die gebruik van onafhanklike, MacPherson stutte met spiraalvere en anti-rolstaaf op die voorste veerstelsel en onafhanklike, multi koppeling met spiraalvere en anti-rolstaaf op die agterwiele.

Wanneer daar agter om die voertuig beweeg word is die ingeboude mini drukvlerk op die agterste deksel wat die aandag trek asook die twee ovaal uitlaatpype onder die agterste buffer. Die agterste deksel word elektronies beheer en maak oop tot op ‘n hoogte van 1965 mm en die grondvry hoogte is 670 mm wat dit maklik maak om bagasie te laai.

Hierdie is ‘n veeldoel voertuig vir die fynproewer en of moeder dit gebruik om die kleingoed skool toe te vervoer of die natuurliefhebber vir ‘n besoek aan die wildtuin, dit kan goed aangewend word. Indien u in die mark is vir hierdie soort voertuig, dit kan aanbeveel word en kan u gerus u naaste Mercedes Benz handelaar gaan besoek en dit vir ‘n toetsrit neem.