Japanese premier staan terug

Die dalende gewildheid wat Japan se Eerste Minister, Yoshihide Suga, die afgelope weke ondervind, het hom laat besluit om nie weer beskikbaar te wees as leier van sy party nie.

Die Japanese markte het geweldig positief gereageer op sy aankondiging, en die vermoede bestaan dat hy ook sal terugstaan as premier indien iemand ander na vore sou tree.

Sy gewildheid as Eerste Minister het dramaties gedaal tot ʼn skrale 20% steun, wat hom laat besluit het om nie beskikbaar te wees vir die wedloop tot die leierskap nie.

Gedurende September sal die Liberale Demokratiese Party nuwe leiers aanwys, wat dus ook die posisie as premier kan insluit vir die persoon wat as partyleier verkies sou word.

Op 17 Oktober hou Japan sy algemene verkiesing, en sal daar dus ʼn nuwe premier gekies word, ongeag watter politieke party die verkiesing wen.