Honderde Kongolese siek van toksiese water

Die regering van die Demokratiese Republiek Kongo (DRK) sê minstens 12 mense is dood nadat hulle in rivierwater was wat toksies is en van Angola af gekom het.

Die water is besmet en is glo afkomstig van ʼn diamantmyn in Angola, en het ook honderde mense in die DRK siek gemaak.

Die mense in die Kongo eis nou vergoeding vir die lewensverlies en vir die baie mense wat siek geword het van die water in die Kongorivier.

Volgens die Kongolese regering het meer as 4,500 mense ernstig siek geword, waarvan 12 tot nou toe dood is van die besmette water.

Die Kongo se Minister van Omgewingsake sê die senior beamptes van die diamantmyn het erken dat die afvalstowwe van hulle afkomstig is, en daarom sal eise teen die myn ingestel word.

Die Catoca diamantmyn is ʼn gesamentlike projek van die Angla regering se diamant maatskappy en die Russe se Alrosa maatskappy.

Die myn het in ʼn verklaring gesê die gifstof het gelek en in die Lovas rivier beland, wat uiteindelik in die Kongo rivier vloei.