EU stel voorwaardes aan Taliban

Die Europese Unie (EU) is gereed om samewerking te bied aan die nuwe regering van Afghanistan, maar dit gaan gepaard met besliste voorwaardes, het ʼn woordvoerder aan die media gesê.

Die EU vereis dat die regering in Kaboel alle menseregte aspekte sal respekteer, wat ondermeer insluit die regte van vroue.

Die nuwe regering moet hom ook nie laat gebruik om terroriste organisasies te huisves as ʼn basis om terreur dade uit te voer in ander lande nie.

Josep Borrell, die EU se Minister van Buitelandse Sake sê dit sal nodig wees om skakeling met die Taliban te bewerkstellig as hulp aan die geteisterde inwoners van die land gegee wil word.

Borrell sê dit is baie belangrik dat die Taliban nie weer ʼn broeiplek vir militante groepe en terreur bendes word as hy buitelandse betrekkinge wil aanknoop en gaan regeer in belang van die hele bevolking.

Hy sê media vryheid, alle menseregte, en onderhandelings met ander politieke partye van die land is noodsaaklik om vrede te handhaaf in die oorlog  geteisterde Afghanistan.