Dosyne brand dood in tronk

In die provinsie Banten, in Indonesië het ʼn brand binne in die tronk ontstaan  wat minstens 80 mense ernstige brandwonde besorg het terwyl 41 mense omgekom het.

Die oorvol tronk is ontwerp om dwelmverslaafdes aan te hou, maar die aantal aangehoudenes is veel meer as waarvoor daar ruimte is.

Die owerheid het later bekend gemaak dat geeneen van die tronk se personeel beseer of gedood is nie, maar die brand het so vinnig versprei dat die gevangenes nie betyds ontruim kon word nie.

ʼn Polisie woordvoerder sê minstens 8 prisoniers het baie ernstige brandwonde opgedoen in die brand wat ontstaan het, maar waarvan die oorsaak nog nie vasgestel kon word nie.

Een van die oorledenes is uit Suid-Afrika afkomstig en ʼn ander een is van Portugal, maar die res is inwoners van Indonesië.

Talle brandweer personeel het die brand probeer blus, en na sowat drie uur was die ergste vlamme onder beheer waarna die oorledenes gesoek is.

Die tronk wat ontwerp is om 1,200 prisoniers te huisves, het egter meer as 2,000 mense gehad, sê ʼn woordvoerder van die regering.