Departement Gesondheid in krisis

Volgens die mees onlangse verslae wat ontvang is, word die ondersoek na die Departement van Gesondheid se mees senior beamptes, en die Digital Vibes, al hoe meer lyk na ʼn ernstige krisis.

Die skandaal wat die bedanking van die vorige Minister van Gesondheid teweeggebring het, is klaarblyklik maar net die punt van die ysberg wat tot hede bekend geraak het.

Met Suid-Afrika wat nou volstoom moet werk om die inenting veldtog teen die koronavirus wil afhandel teen Desember, verkeer die Departement in ʼn ernstige krisis as daar van die mees senior mense van die Departement ook betrokke is by die skandaal.

Meningsvormers sê die Departement van Gesondheid kan in chaos verval as die senior beamptes ook skuldig is aan korrupsie soos wat na bewering die geval met die vorige minister is.

Die nuwe Minister van Gesondheid, Joe Phaahla, het erken dat sy departement se kapasiteit negatief geraak word deur die ondersoek na die skandaal waarby R150 miljoen betrokke is.

Die ondersoek na die Digital Vibes kontrak het nie net die einde van die vorige minister in die amp beteken nie, maar het na bewering ook skerp reaksie uitgelok in Westerse lande wat aanvanklik bereid was om meer entstof aan Suid-Afrika te lewer, maar dit later na ander wêrelddele versend het.