Cosatu dreig ANC oor e-tol

Die vakbond Cosatu sê dat die regering nie langer kan voortgaan om die mislukking van e-tol te ignoreer nie, en dat dit nou noodsaaklik geword het om die stelsel te skrap.

Die vakbond wat sowat 1,8 miljoen werkers verteenwoordig in Suid-Afrika het die Minister van Vervoer, Fikile Mbalula tyd gegee tot einde September vanjaar om finaal aan te kondig dat die regering die e-tol stelsel skrap.

Ingeval die minister nie voldoen aan die eise van Cosatu nie, sal die vakbond geen ander keuse hê as om op verkiesingsdag met ʼn reuse protes aksie op te tree nie.

Daar bestaan nog geen sekerheid oor wanneer die verkiesing gehou gaan word nie. Dit mag op 27 Oktober wees, maar kan ook in Maart 2022 wees, afhangende wat die Verkiesingskommissie se finale besluit sal wees.

Cosatu sê die e-tol het misluk in Gauteng en die Outa beweging het ook sy stem gevoeg by die beswaar makers en sê die minister het nou reeds lank genoeg kans gehad om die mislukte stelsel te skrap.