Binnelandse Sake beweeg na Banke

Die Suid-Afrikaanse Departement van Binnelandse Sake is besig om “takkantore” te open in samewerking met handelsbanke.

Daarbenewens word gewerk aan die opgradering van die Departement deur aanlyn dienste te lewer, waarvan die publiek hulle aansoeke vir ʼn ID en ander noodsaaklike dokumente kan afhandel sonder om die kantore van die Departement te besoek.

Die Departement is ook in proses om sogenaamde “satelliet kantore” te vestig by plaaslike banke se takke, wat ook die aanlyn fasiliteit sal bied.

Tans kan mense met internet geriewe aanlyn aansoek doen vir ʼn ID maar die diens gaan glo uitgebrei word tot ʼn meer omvattende diens wat dit vir aansoekers makliker maak deur nie die departement se kantore te besoek nie. Slegs vir die afhaal van dokumente sal die kantore besoek moet word.

Binnekort sal daar ook ʼn aanlyn moontlikheid wees om afsprake te maak na die Departement, sowel as na die satelliet kantore indien dit nodig sou wees.

Volgens die minister beoog die Departement om die aantal satelliet kantore by banke verder te vergroot om van die huidige 27 uit te brei tot sowat 70 bank kantore.