ANC personeel help met verkiesing

Die ANC se werknemers, wat nou reeds vir maande geen vergoeding kry nie omdat die party klaarblyklik finansieel bankrot is, het hulle lojaliteit bewys deur die staking te stop om behulpsaam te wees met die verkiesing.

Die party het een of ander ooreenkoms met die personeel aangegaan, wat insluit dat die staking beëindig moet word.

Van die werkers het reeds begin om behulpsaam te wees met die registrasie van kiesers in die swart woongebiede, en die personeel se verteenwoordigende komitee se woordvoerder het bevestig dat hulle as personeellede hard aan die werk is vir die verkiesing.

Sommige is besig om behulpsaam te wees met registrasie van kiesers terwyl ander betrokke is by die verkiesingsveldtog van die regerende party.

ʼn Woordvoerder van die personeel sê hulle het besluit om die staking te stop en te help met die verkiesing, en na afloop daarvan kan die staking hervat word as dit nodig is.