Afghanistan: VN moet veilige sone reël

Die Verenigde Koninkryk en Frankryk het die Verenigde Nasies versoek om die daarstel van ʼn “veilige sone” in Afghanistan se hoofstad Kaboel te vestig.

Die twee lande sê dit is noodsaaklik sodat die humanitêre operasies beskerm kan word. Die huidige toestand in Afghanistan is onveilig en honderde vroue en kinders kla oor die mishandeling wat hulle ondervind, en gevolglik sal verkies om die land t verlaat.

Die Franse president, Emmanuel Macron, sê dit is van die uiterste belang dat ʼn raamwerk voorsien word vir die verenigde nasies om op te tree in geval van ʼn noodtoestand.

Hy wys ook daarop dat so ʼn veilige sone geleentheid bied vir internasionale gemeenskappe om die druk toe te pas op die Taliban wat nou in beheer van die land is.

Intussen is verneem dat die vyf permanente lede van die Veiligheidsraad, Frankryk, Amerika, Rusland, Sjina en die Verenigde Koninkryk, vergader het om die Taliban beheer te bespreek.