VSA plaas groter druk op Kuba

Die Amerikaanse regering plaas nog groter druk op Kuba met sanksies wat ingestel is teen die eiland se polisie wat gewelddadig optree teen die protesteerders wat regoor die land optree.

Kubaanse leiers wat pro-Amerika is, en aktiviste op die eiland het ʼn beroep op president Joe Biden gedoen om hulle te ondersteun as demokrate wat protesteer teen die diktatorskap van die Kubaanse kommunistiese regering.

Biden sê hy streef daarna om nog strenger sanksies teen Kuba in te stel wat wel later goedgekeur is, en wat die druk op die Kubaanse regering verder verhoog.

Die VSA president was in gesprek met die pro-demokrate se leiers in Kuba wat hom versoek het om verdere steun te bied om die protesteerders se doelwit te bereik.

Die Amerikaanse Departement Tesourie het aangekondig dat nuwe sanksies teen die eiland se Nasionale Revolusionêre Polisie en sy twee leiers, Oscar Callejas Valcarce en Eddy Sierra Arias ingestel is.

Biden het later gesê meer sanksies word voorberei indien daar nie drastiese veranderings in Kuba kom nie, maar kenners meen die kommunistiese regering gaan nie nou swig voor die VSA sanksies nie.