Terugslae verlam SA

Die een na die ander terugslag tref die land, en terwyl die armoede op die voorstoep huiwer, poog die geteisterdes om die oplossings te vind vir die herhaaldelike terugslae wat soms uit die bloute neersif.

Die land was voor Maart 2020 reeds deur graderings agentskappe afgegradeer na rommelstatus, en asof dit nie groot genoeg probleme veroorsaak het nie, kom die nadelige uitwerking van Staatskaping op die land afgestorm.

Die voormalige president van die land veroorsaak menige probleme, speel woer-woer met die regering en die howe, terwyl Suid-Afrika nog wag dat daar vervolging moet wees van die skuldiges.

En die koms van die koronavirus maak alles toe net slegter, sodat die land ekonomies nog verder in ʼn enorme skuldlas gedompel word, waarvan die uitkoms nog na baie jare bereken sal word deur die deskundiges.

Asof Suid-Afrika se probleme nie wil opdroog nie, word die opstokers se poging tot opstand, anargie en revolusie ʼn klaaglike mislukking, maar die handel en nywerheid kreun onder die miljarde Rand se verliese wat bo-op die grendeltyd se verliese gepak word.

Met die kuberkrakers se aanslag op Transnet se hawes het die land vir ʼn wyle op ekonomiese gebied byna tot stilstand gekom.

Dit is al die terugslae wat Suid-Afrika verlam, en die wete dat korrupsie, bedrog en ander skelmstreke steeds voortgaan omdat die polisiediens al kleiner in mannekrag word, maak die land die laaste plek waarin die buitelanders hulle geld sal kom belê.