Taliban verbreek sy beloftes

Dit is nie die eerste keer dat die Taliban sy beloftes verbreek nie. Pas nadat die rebelle Kaboel oorgeneem het, is die bevolking belowe dat daar geen vervolging ingestel sal word teen enige inwoner nie, “want die oorlog is verby”.

Die belofte het kwalik een dag lank staande gebly, want daarna het die vegters van deur tot deur besoeke gebring op soek na mense wat op hulle “swart lys” is, en wat verseker vervolging in die gesig staar.

Die inligting oor die soektog is bekend gemaak deur ʼn intelligensie agentskap wat ʼn verslag vrygestel het oor die optrede van die Taliban.

Die Taliban woordvoerder tydens ʼn TV onderhoud met die BBC, is te kenne gegee dat vroueregte onaangetas sal bly en dat niemand vervolg sal word nie aangesien die militêre konflik beëindig is.

Volgens die intelligensie verslag bestaan die Taliban se swartlys van mense wat vervolg sal word, uit persone wat nog steeds lojaal is teenoor die vorige president en sy regering.

Duisende Afghane vlug die land uit omdat hulle die beloftes van die Taliban nie glo nie, en selfs beweer dat die rebelle hulle wraak sal uitvoer sodra die stof gaan lê het en die Westerse lande nie meer vlugtelinge per vliegtuig die land uit neem nie.