Taliban leuens kom na vore

Die Europese Unie se twyfel oor die egtheid van die Taliban is die afgelope week as korrek beskou nadat berigte van gruwelike diskriminasie en brutaliteit deur Taliban lede openbaar is.

Die Verenigde nasies het self ook sy kommer uitgespreek oor die Taliban se opregtheid, en het hierdie week inligting vrygestel wat daarop dui dat ernstige geweld deur die Taliban gebruik word teen burgerlikes.

Van die eerste klagtes wat die VN bereik het, is die blokkeer van vroulike studente na skole en ander opleiding sentrums, en dat die vroue dikwels gewelddadig hanteer word.

Gevalle is aangeteken van kinders wat verplig word om as soldate opgelei te word, en die vegters beweeg van huis tot huis op soek na mense wat op hulle “swartlys” is en wat vervolg gaan word.

Die VN se hoof van die afdeling oor menseregte, Michelle Bachelet, sê haar kantoor ontvang afskuwelike berigte van die miskenning van regte wat deur die Taliban gepleeg word, wat verklaar waarom derduisende mense bereid is om die land te verlaat.