Sjina bied samewerking met Taliban

Die Sjinese regering het sy samewerking aan die Taliban beloof en daarmee bevestig dat ʼn “vriendelike en samewerkende” verhouding met Afghanistan verseker kan word, het ʼn regerings woordvoerder gesê nadat die Taliban rebelle groep beheer oorgeneem het in Kaboel en nou die nuwe regeerders van Afghanistan sal wees.

Beijing het tot nou nie-amptelike bande met die Taliban gehad, wat klaarblyklik nou verstewig sal word aangesien Sjina regdeur die stryd wat die rebelle gevoer het, steun verleen het sonder om prominent na vore te kom as kampvegter vir die rebelle.

Sjina deel ʼn 80 kilometer afstand grens met Afghanistan, en sal waarskynlik nou alles moontlik doen om die buurland se samewerking te kry, want vir 20 jaar het Beijing gevrees dat die Westerse moondhede Afghanistan kan oorreed om teen Sjina te draai en selfs ʼn basis kan wees vir Westerse militêre basisse teen Sjina in tyd van konflik.

Kenners reken die Sjinese regering sal nie toelaat dat die Taliban van hom vervreem raak nie, en Beijing sal alles moontlik doen om die Taliban in die regering stoel te hou.

Een van die leiers van die Taliban het egter tydens sy ontmoeting met die Sjinese Minister van Buitelandse Sake gesê die Taliban sal beheer neem van Afghanistan, maar sal nie toelaat dat terreur groepe in die land vestig nie.