Regering aan die hand van die Woord van God – aflewering 2

In die eerste aflewerings het ons na die beginsels van gesag, gesagsterreine en roeping gekyk.

Daar is uitgewys dat, terwyl God aardse gesagstrukture toelaat, daardie strukture slegs binne die raamwerk van ʼn Christelike lewens- en wêreldbeskouing tot volle reg kan kom.

Hand-aan-hand hiermee die beginsel dat slegs gelowiges in staat is om ware leierskap te openbaar.

Ander (ongelowige) mense oefen bloot mag uit – meermale op eiewillige en uitbuitende wyse, soms subtiel, meermale ooglopend duidelik.

Die ander, belangrikste beginsel wat uitgelig was:

dat slégs die Wet van God bepaal wat is reg of verkeerd, en dat enige menslike grondwette of regsreëls wat dit nie volg nie, noodwendig gebrekkig is.

Die Wet van God is volmaak, suiwer (Psalm 19) en geldend, ook vir ongelowiges, en is die enigste toetssteen wat objektief gesagvol is.

Die Wet van God is onvergelykbaar teen enige ander. (Deuteronómium 4, vers 8)

Aan die hand van die Wet en die Woord is dit dus moontlik om enige regeringsvorm of gesagstruktuur te beoordeel.

EN HEDENDAAGS AKTUEEL, BIED DIT VIR DIE CHRISTEN GELOWIGE ʼN WAARDEVOLLE RIGLYN OOR WANNEER WÊRELDSE STRUKTURE GEHOORSAAM MOET WORD, OOK WANNEER NIE.

Dit bly daarom belangrik hierdie beginsel te herhaal en uit te brei:

Slégs die Woord van God, met ander woorde GOD SELF, BEPAAL REG of verkeerd, definieer regverdigheid.

            Daar is géén ander standaard nie.

As skepsel van God, is daar in die mens genoegsame bewustheid van reg en verkeerd, regverdig of onregverdig. (Romeine 1, verse 19 tot 21).

Dit is dus waarskynlik dat Christelike regerings wette daar kan stel wat reg en regverdigheid bevorder – omdat hul regering deur God gelei word.

Dit is selfs moontlik dat on-Christelike regerings dit kan doen, want die algemene genade van God beskik dat regerings en gesagstrukture (menslik gesproke) goed, reg en regverdig kán funksioneer.

Dit is egter níé deur die toedoen van daardie mense nie, maar die genadige beskikking van God.

Daarteenoor is slegte regerings, onreg en onregverdigheid die werk van die mens se sondige aard, die gevolg van magsug en magsvergryp – die vrug van menslike sonde, opstand en ongehoorsaamheid sedert Eden en Sinear.

In ons dag is dit verder belangrik om die dwaalleer van die humanisme te ken en te verwerp:

“menseregte” is ʼn begrip absoluut VREEMD AAN DIE BYBEL of Christelike geloof.

Dit hou GÉÉN VERBAND MET die roepingsplig van DIE TWEEDE WETS-TAFEL nie.

Dit is die WERK VAN DIE ANTICHRIS. (2 Thessalonicense 2, spesifiek verse 3-4)

Hoe moet gelowiges dan prakties dink en handel in die daaglikse interaksie met moderne regerings, grondwetlike raamwerke, samelewingsnorme en (vals) waardestelsels wat die openbare lewe beheers?

In kort, áltyd terug na die Skrif.  Daarmee saam moet ons besef dat die openbare terrein vereis tans dringende, diepliggende hervorming.

Gesag is ingestel deur God; dat mense dit misbruik, soms gruwelik, is die gevolg van die sondeval.

(die strydende kerk, gelowiges individueel en gesamentlik, stry nie net teen ons eie sondige aard nie, maar ook teen die algemene gevolge van die sonde.)

God bepaal egter dat gesag hier en nou gehoorsaam móét word. (ter wille van ons gewete voor God)

(Romeine 13; 1 Petrus 2)