Net twee moontlikhede vir Mboweni

Die Suid-Afrikaanse ekonomie is in chaos, en die opsies vir die regering om die ekonomie reg te ruk en die skuldlas afgewerk te kry, is aan die min word.

Ekonome is van mening dat die regering reeds uit opsies gehardloop het om die land van ʼn enorme finansiële insinking te red, maar dit dui op die moontlikheid dat die inwoners en belastingbetalers die spit sal afbyt, is gesê.

Die Minister van Finansies het twee dinge wat gedoen kan word, en beide is ongewilde, moeilike rigtings wat tot dusver vermy is, maar wat waarskynlik die enigste opsies is.

Die regering kan besluit om belastings te verhoog, maar dit sal hom stemme kos in volgende jaar se munisipale verkiesings, en die tweede moontlikheid is ewe ongewild.

Die regering moet sy eie uitgawes begin inkort, wat beteken dat baie personeel werkloos sal wees, en wat die werkloosheid tot verby die 40% kerf kan druk. Dit het weer sosiale probleme, en die uitgawes aan werklose mense sal dramaties styg, word bereken.

Die finale antwoord is glo, volgens die ekonome, om albei die ongewilde stappe werklikheid te maak. Of die regering oor die durf beskik om die stappe te neem, sal die tyd wys.