Mianmar kry in 2023 verkiesing

Die onwettige militêre Juta van Mianmar, wat die land se demokraties verkose regering omvergegooi het, probeer klaarblyklik om die miljoene inwoners te paai met die vooruitsig van ʼn verkiesing in 2023.

Die militêre hoof het in ʼn televisie boodskap wat hy elke ses maande uitsaai, onderneem om in 2023 n algemene verkiesing te hou indien die land stabiel genoeg is.

Die Juta hoof, ene Min Aung Hlaing, het die afgelope naweek onderneem dat ʼn multi-party verkiesing gehou sal word teen Augustus 2023.

In sy rede het hy ook nie nagelaat om die demokratiese politieke partye se ondersteuners as “terroriste” te beskou nie, en die burgerlike leiers, wat demokratiese beginsels ondersteun daarby in te sluit.

Die generaal het ook onderneem dat die noodtoestand teen 2023 opgehef sal word, maar politieke ontleders sê daar bestaan geen waarborg dat die ondernemings wat gegee is, nagekom sal word nie.

Die mening is uitgespreek dat die Juta ook ernstige finansiële probleme ondervind as gevolg van die sanksies wat toegepas word.

Berigte lui dat die wettig verkose president van die land, Suu Kyi, reeds verskeie kere in die hof verskyn het en steeds in aanhouding bly.