Japanese verlig oor Spele

Die meerderheid inwoners van Japan, en veral die mense in Tokio, het ʼn sug van verligting gegee toe die Olimpiese Vlam uiteindelik Sondag uitgedoof word.

Sowat 55% van die mense in Japan was gekant teen die aanbieding van die Spele terwyl die koronavirus pandemie woed in die land. Die daaglikse toename in nuwe infeksies en die styging in sterfgevalle het mense laat saamkom in verskeie verset en protes optogte met die eis dat die Olimpiese Spele afgelas word.

Kenners reken die 2020 Olimpiese Spele van Tokio, wat eers vanjaar aangebied kon word weens die pandemie, sal slegs onthou word as die oninteressantste Olimpiese Spele wat ooit gehou is, en sportlui sê dit sou beter gewees het as die Spele afgelas was, want na afloop van vanjaar se verrigtinge is daar weinig rede om dit te onthou.

Die Olimpiese Komitee en die Japanese regering het geweier om die Spele uit te stel, en wou niks hoor van moontlike afstel daarvan nie. Die argument wat gebruik was, dat daar reeds miljarde dollar spandeer is, het egter nie byval gevind, of indruk gemaak op die Japanese kiesers nie.