Help dat landbou gesonde kos gee

Herstel ons waterbronne of kry privaatinstellings om die werk gedoen te kry. Dit is die boodskap wat TLU SA met ‘n nuwe veldtog oor water aan die Departement van Water en Sanitasie én die regering wil stuur.

Volgens die 2019 Water en Sanitasie Meesterplan was 56% van die 1 150 munisipale rioolaanlegte en 44% van die 962 watersuiweringsaanlegte in swak of kritieke toestand en 11% heeltemal disfunksioneel. Die redes hiervoor is die verval van watersuiweringsaanlegte as gevolg van munisipale korrupsie, wanbestuur en onkundige personeel. Verder word riviere en damme erg besoedel as gevolg van swak behuising weens armoede en onaanvaarbare vervolging van besoedelaars.

“Die swak gehalte van ons water hou nie net ‘n risiko vir die beskikbaarheid van drinkwater in nie, maar ook vir die volhoubaarheid van landbou,” sê mnr. Steven Vermaak, voorsitter van TLU SA se Omgewingsbewaringkomitee. “Hoe meer stedelike waterbronne besoedel raak, hoe verder word daar in landbougrond se water gedelf om skoon water te kry. Hoe minder landbougrond skoon water het, hoe minder volhoubaar is landbou en hoe meer word plase verkoop. Hoe minder kommersiële boere landbouprodukte verskaf, hoe minder voedsel is daar in die land beskikbaar. Ons land stuur af op hongersnood.”

Met hierdie veldtog wil TLU SA die swak kwaliteit van water regoor die land onder die regering se aandag bring. Suid-Afrikaners word aangemoedig om ‘n foto van vuil water in hulle omgewing af te neem en vir TLU SA te stuur. Hierdie foto’s sal dan deel van ‘n verslag aan die departement en regering vorm.

“Ons is hoopvol dat die Blou- en Groendruppelprojekte weer stadigaan begin lewe kry, want een van die primêre take van die departement, ingevolge die Nasionale Waterwet, is om die publiek ingelig te hou oor die kwaliteit van rivier- en kraanwater,” sê mnr. Vermaak. “Dit is onmoontlik om die probleem op te los, as die departement nie eers weet wat die omvang daarvan is nie.”

Die minister van water en sanitasie moet verder ook alle rolspelers in die water-waardeketting reguleer, maar faal daarmee. 

TLU SA dring daarop aan dat die volgende gebeur:

  • Bepaal die status van waterbronne sodat die graad van herstel verreken kan word;
  • Stel bevoegde, ervare persone by munisipaliteite en waterowerhede aan wat begrip het vir die probleem en vinnig kan optree;
  • Tree ingevolge bestaande wetgewing op teen die wat besoedel, en rou riool en ander stortings in damme en riviere doen;
  • Hou die Water Navorsing Kommissie verantwoordelik vir die uitvoer van hulle mandaat.

“Uiteindelik gaan ons ‘n ultimatum aan die regering stel om ons waterbronne teen ‘n sekere tyd te herstel,” sê mnr. Vermaak. “Indien die regering hierdie taak nie kan baasraak nie, sal ons daarop aandring dat privaatinstellings die werk oorneem.”

Steun die veldtog by hierdie skakel: https://tluveldtogte.co.za/watersake/ of stuur jou foto’s per WhatsApp aan 060 735 3557.