Griekeland veg steeds teen vlamme

Dit is reeds meer as twee weke dat Griekeland verbete veg teen die bosbrande wat oor groot gebiede verwoesting gesaai het.

In die noordelike deel van Evia Eiland is brandbestryders in ʼn geweldige stryd gewikkel om die eiland se massiewe brande te blus.

Tien duisende hektaar is reeds vernietig op die eiland en die Griekse Departement het alle moontlike toerusting en brandbestryders, asook vliegtuie, na die gebied gestuur, maar sterk wind en hoë dag temperatuur bemoeilik die werk.

Die hittegolf wat as die ergste in baie dekades bestempel word, het klaarblyklik die veelvuldige brande laat ontstaan, en die tweede grootste eiland van Griekeland word ernstig benadeel wat ook ekonomiese implikasies het, word beweer.

Later is berig dat nuwe brande die hoofstad Athene vir die derde keer bedreig, en die veelvuldige brande op verskillende plekke maak die stryd soveel moeiliker.

Baie mense moes op die eiland uit hulle woonplekke gered word, en klein dorpies word bedreig omdat die brandbestryders uitgeput is na die afgelope 2 weke se aanhoudende stryd teen die vlamme wat aangejaag word deur sterk wind.