Dit is skrikwekkend

Die afgelope week het die Minister van Polisie die misdaad statistiek vir die tweede kwartaal van 2021 vrygestel. Misdaad het met reuse spronge toegeneem, maar die ergste is dat moorde nou so veel per dag geword het, dat die gewone wetgehoorsame burgers te bang is om sy woonplek te verlaat.

As dit nie uit vrees vir ʼn aanslag op sy lewe is wat deur moordenaars beplan is nie, dan is dit moontlike infeksie van die koronavirus wat die mensdom bedreig.

Minister Cele maak bekend dat daar in die drie maande, 5,760 moorde gepleeg is, wat beteken dat daar gemiddeld 64 mense per dag vermoor word in Suid-Afrika. Dit is byna 3 mense per uur.

Wie nog veilig voel in so ʼn land waar die polisie die stryd teen misdaad verloor het, is sekerlik of oningelig of onverskillig.

Dit is skrikwekkend. Dit maak van die veiligheidsdienste ʼn bespotting. Dit bevestig dat die dissipline van die jongste konstabel tot by die minister, uiters onbevredigend is – al is daar baie polisiebeamptes wat nougeset hulle werk verrig.

Dit is hierdie swak regering, wat veels te min vakante poste in die polisiediens vul, wat as die eerste rede aangevoer kan word. Tesame daarmee is die regering klaarblyklik roekeloos met die aanwending van fondse, want die miljoene Rand wat jaarliks “gespaar” word omdat die vakante poste nie gevul word nie, word waarskynlik aangewend op gratifikasie vir werklose mense.

Hoe dit ook al mag wees, niemand sal uit die buiteland dit waag om sy goeie geld in die misdaad-hool te kom aanwend as belegging nie, want dit sal dalk ook met onluste afgebrand word.

Diegene wat “Ja” gestem het moet nou sê watter misdaad is die ergste – Sharpeville of die huidige bedeling wat nimmer eindigende moord en doodslag voortbring.