Biden geroskam deur Demokrate

Dit is nie net die Amerikaanse Republikeine wat sterk standpunt ingeneem het teen die manier waarop president Joe Biden opgetree het in Afghanistan nie, maar ook senior lede van die Demokrate is ontevrede met die wyse waarop die soldate onttrek is en die chaos wat dit veroorsaak het.

Biden het gesê die VSA het reeds meer as 11,000 mense uit Afghanistan per vliegtuig geneem na veiligheid in die VSA, en het sy simpatie uitgespreek teenoor diegene wat nog sukkel om veiligheid te bereik.

Die chaos by die lughawe in Kaboel het gedurende die naweek ietwat bedaar, en volgens ʼn woordvoerder in die Amerikaanse Wit Huis sal alle VSA burgers uit Kaboel wees op 31 Augustus.

President Biden het sy optrede bly verdedig, maar die kritiek is nie teen hom vir die onttrekking van die troepe nie, maar die onverantwoordelike wyse waarop dit gedoen is het wêreldleiers ontevrede gelaat.

Die G7 lande het die onttrekking uit Afghanistan bespreek en nie gehuiwer om die Amerikaanse president te kritiseer nie.

Navo het ook sy kritiek uitgespreek oor die feit dat sowat 20 vlugtelinge dood is weens die wanordelike optrede in Kaboel se lughawe terrein, terwyl sewe buite die lughawe terrein omgekom het.