Biden blameer Afghan leiers

Die Amerikaanse president, Joe Biden, het die regering en weermag van Afghanistan daarvan beskuldig dat hulle toegelaat het dat die nTaliban die een na die ander stad, en die hoofstad Kaboel, sonder slag of stoot ingeneem het.

Die beskuldigings kom nadat Biden uit verskillende oorde geblameer word vir die chaos in Afghanistan weens die onttrekking van die Amerikaanse troepe wat ook gelei het tot die andar lande se onttrekking van hulle magte.

Politieke ontleders wys daarop dat die voormalige president, Donald Trump, in sy verkiesingsveldtog onderneem het om die VSA troepe te onttrek uit Afghanistan, en dat die besluit wat toe geneem is, nou tot uitvoer gebring is.

Opponente van Biden sê egter dat hy steeds die reg gehad het om die besluit om te keer soos wat hy met verskeie ander besluite van Trump gedoen het.

  Die president het vroeër sy besluit verdedig en gesê “dit is die regte ding om te doen vir die VSA”, en het verwys na die oproep van duisende Amerikaanse burgers wat gevra het dat die troepe onttrek moet word.

ʼn Voormalige bevelvoerder van die Duitse magte in Afghanistan het verlede week gesê die onttrekking van die Navo lande se soldate uit Afghanistan was ʼn baie groot fout.