Zuma ondersteuners skep chaos

Die ontevrede ondersteuners van die veroordeelde Jacob Zuma wat tronkstraf uitdien, is besig om nie net chaos op die N3 hoofweg te veroorsaak nie, maar gee die land se swak ekonomiese toestand nog ʼn verdere skop in die ribbes.

Dit is die mening van ʼn ekonoom in Pretoria wat verwys het na die 34 vragmotors wat in die nabyheid van Mooirivier aan die brand gesteek en vernietig is.

Die Zuma ondersteuners het verbygaande motoriste met klippe en brandende stompe hout gegooi terwyl versperrings op beide kante van die snelweg aangebring is.

Van die vragmotors wat in die brande vernietig is, se kosbare vrag is ook tot as gebrand, en miljoene Rand se skade is aangerig terwyl die voorraad wat hoofsaaklik van Durban hawe na die binneland vervoer moes word, in brande vernietig is.

Onbevestigde berigte lui dat die polisie dit wou voorkom dat ʼn bloedbad onstaan as mense op die snelweg gearresteer sou word, en is daar gewag tot die voorbokke by hulle huise is, om daar gearresteer te word.

Intussen word beraam dat sowat R150 miljoen se skade aangerig is deur die vandale, wat nie insluit die motorvoertuie en winkels wat beskadig en beroof is nie, en alhoewel Ramaphosa die geweld veroordeel het, gaan die misdadigers voort en het reeds in ander provinsies met soortgelyke optrede begin in ʼn poging om Zuma se vrylating te bewerkstellig.