Woeste wêreld

Die wêreld is veronderstel om al meer tot die hoogste vlak van beskawingspeile te groei, maar die werklikheid is dat die omgekeerde dalk werklikheid geword het.

Die skrikbewind wat deur die koronavirus gevoer word met al sy variante is een van die faktore wat waarskynlik groter kommer wek as die meeste ander uitdagings van die hedendaagse beskawing.

Met bykans 4 miljoen mense wat reeds gesterf het aan koronavirus vervante infeksie, en miljoene wat se lewens so beïnvloed is dat hulle letterlik hulleself in hulle eie woonplekke opsluit en ʼn tronk lewe moet voer om nie siek te word nie.

Die talle oorloë wat in verskillende dele van die wêreld aan die gang is, eis nie net baie lewens nie, maar ontwrig samelewings en word miljoene mense die slagoffer van geweld wat weens politieke verskille ontstaan het.

Hongersnood, mediese dienste wat nie bestaan nie, verkragtings en ontvoerings, is alles deel van ʼn lewe wat enige iemand die slagoffer kan maak.

Met korrupsie en diefstal, dikwels deur politici, veroorsaak dat opstande en geweld aan die orde van die dag is, terwyl almal skree vir beter lewe vir die arm mense, maar die hulp is skaars en onvoldoende.

Dit alles maak van die wêreld ʼn woeste plek, en ʼn woonplek waar vrede, liefde en gehoorsaamheid aan die Woord van God, besig is om al verder weg te sink in die verlatenheid van ellende.